Thursday, April 28, 2011

Groot bohaai oor ‘n troue

groot bohaai oor bloubloediges
wat trou
mense wat staak eet
ander wat heeltyd daarvan praat
en dit net als om 2 mense
wat hul nie ken

om so bohaai oor bloubloediges
te maak,
rerig dis siek,
kry ‘n lewe


groot bohaai oor bloubloediges
wat trou
mense wat op straat gaan staan
met kameras
en trane wat rol
vir mense wat hul nie ken

om so bohaai oor bloubloediges
te maak,
rerig dis pateties,
kry ‘n lewe

Tuesday, April 26, 2011

Dankbaar

Mens dink daar is so baie fout
met jou eie lewe
tot jy sien van kinders met outisme
en kanker in hul brein en bloed
en baie ander sulke slegte goed

Mens dink daar is so baie fout
met jou eie lewe
tot jy sien hoe ouers uitgemergel
na siek kinders kyk
probeer om nie op ‘n hoop te sit

Mens dink daar is so baie fout
met jou eie lewe
tot jy sien hoe oumense en kinders
met flenters bakhand vra vir kos
terwyl die regering blinkdik is

Mens dink daar is so baie fout
met jou eie lewe
tot jy sien hoe mooi jou huis vergelyk
met die plakkerskamp op die hoek
met oop vure en gebrande mure

Mens dink daar is so baie fout
met jou eie lewe
tot jy sien hoe bly die petroljoggie ‘n R5 vat
en vroom draf na die volgende blink kar
waarvan hy net kan droom

Monday, April 25, 2011

Plekkie van hul eie

Stadsmense wat smag
vir rusplek by die see
uitgebuit deur kusinwoners
vir net ‘n dag of twee
se slaapplek by die see

Stadsmense wat vakansies ver ry
net om saam dieselfde mense
bietjie langs die see
vir net ‘n dag of twee
bietjie in die see te speel

Stadsmense koop
moeg vir uitbuiting
klein huisies by die see
om bietjie langs die see
vir net ‘n week of twee
uit te span in hul huisie by die see

Thursday, April 21, 2011

Ek sê maar net van leë blikke

Ek laat my nie voorsê
deur politikus of aktivis
Ek laat my nie slegsê
deur politikus, landgenoot of uitlander
Ek laat my nie bangmaak
deur grootprater of skelm

Ek weet wie ek is
en jy sal my nie vertel dat my mense
slegter as jy is
Ek weet wie my mense is
as jy na een slaan
dan staan ons weer saam

Ek laat my nie voorsê
deur politikus of aktivis
wat agtebaks sy eie sakke stop
sy eie mense in vuil gehuggies los
en vroom vuis in die lug
opsweperig weergalm

Herkoms

Ek is van Europese van afkoms
maar is nie rerig een
Ek is gemaak in Afrika
maar is nie soos roet
Ek is ‘n Suid Afrikaner
deel van ‘n mengelpot
maar meer belangrik nog
Ek, is ‘n Boer

Monday, April 11, 2011

Als begin met ‘n hallo!

Ag nee man
nou voel dit soos werk
eenmaal ‘n week
nog een meer

Ag nee man
dit was bedoel as ontspanning
en nou pla dit
as dit nie op is

Ag nee man
ek voel dat so min dit lees
so as jy hier is
laat my bietjie weet

Friday, April 8, 2011

Almal het iets te sê

My ma’t gesê ek moet vir my ‘n boer soek
Maar ek het mos nie ore aan my kop
My ma’t gevra wat ek in die stad wil soek
Maar ek weet klaar beter
My ma’t gesê ek is nie normaal
Maar ek verstaan dit nie

My pa’t gesê ek moet stadiger ry
Maar ek kruip soos ‘n slak
My pa’t gesê ek moet die mans die deur wys
Maar dit weet ek mos
My pa’t gesê ek is soos ‘n malhaas
Maar ek verstaan dit nie

My sus’t gesê ek moet minder praat
Maar ek weet ek skryf meer
My sus’t gesê ek moet my kar skoner hou
Maar hoe gemaak as my skoen dan breek
My sus’t gesê ek moet nie soos ‘n krismisboom lyk
Maar toe sit ek nog toonringe aan

Ek myself het gesê ek moet doen wat ek kan
Maar net wanneer ek wil
Ek myself het gesê ek moet aantrek soos ek wil
Maar net as ek so voel
Ek myself het gesê ek moet minder kitskos eet
Maar net as iemand vir my kosmaak

Ek myself praat gans te veel
Maar gelukkig lees ek dit nie hier!

Monday, April 4, 2011

Ek weet dit kom

Ek hou my asem op, want ek weet wat kom…

Dit was net nou die dag dat ek opgedaag het in hierdie grote stad vol vreemdelinge met net my tas en kar.
Net nou die dag het ek op ma en pa se stoep gesit en kyk vir die vallei daaronder en ligte aangeskakel soos ek deur die huis wandel.
Nou is ek hier, alleen in die donker - met iets wat kom.

Ek loop so lig soos ek kan, my oë wawyd oop.
Ek luister na die nag, vir als wat dalk mag kruip en kap.

My voet is net om die gang se hoek toe voel ek dit!
Dit het my! Die swart gevaarte het my om die enkels!
Ek gee nog een klein treetjie en sleep dit agterna, maar dit gee nie bes.
Ek gee maar op en raap die klein swart katjie op.

Vanaand, onder die sterre

Onder die maanlig sonder jou
Dans ek kaal saam die wind
Die bome juig en die klippe klap
Want vanaand is ek onder die sterre sonder jou

Onder die maanlig sonder jou
Stroom vreugde uit my hart
Die sterre lag lekker saam
Want vanaand is ek onder die sterre sonder jou

Onder die maanlig sonder jou
Hoef ek nie weer te berou
Wat net gewoon na my kom
Want vanaand is ek onder die sterre sonder jou

Onder die maanlig sonder jou
Bly ek laat uit met die wind
En vind nuwe vriende
Want vanaand is ek onder die sterre sonder jou