Thursday, February 7, 2013

Droom van verre lande

as jou siel hunker
na lande oor die see
jou voete brand
vir vreemde paaie
jou tong kwyl
vir iets nuuts
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou siel hunker
om arms uitgestrek
mal koue lug te snuif
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou voete brand
om als te sien
wil huppel na nog 'n plek
hoe kan jy nie jou tasse pak?

as jou mond droog van lus
droom van ander taal
en vreemde kos
hoe kan jy nie jou tasse pak?

Eendag in Moskou

Eendag in die koue
daar op die plein in Moskou
wil ek klappertand kyk
na 'n sprokieskerk

Een nag in die koue
daar in ou Moskou
wil ek verruk word
in die Bolshoi

Eendag in die koue
op die strate van Moskou
wil ek net sit en luister
na wat ek kan sien

Een nag in die koue
erens in ou Moskou
wil ek ook wegslaan saam vreemdtaliges
net een klein Vodka

Liefste Ierland

My Ierland
hoe verlang ek tog
na jou groen lappies grond
en rojale mense

My Ierland
hoe verlang ek tog
na jou slanke bene
bedek met halwe lower

My Ierland
hoe verlang ek tog
om jou gebarste vel te streel
te luister na jou penniefluitstories en groen sprokies

My Ierland
Hoe verlang ek tog!
My Ierland,
ek weet nie hoe lank nog.